Suid-Afrika se Jeug is hier om te bly

Druk-weergaweSend by emailPDF version

Aktiwiteite

Bron: KERKBODE WEBWERF  Verwysing: http://www.kerkbode.co.za/?p=1113 Datum: 13/06/2012 Filed under: Aktueel Geskryf deur: Jean

 

Ruan Bruwer (27) is die redakteur van die Noordkaap-koerant in Kimberley. “Ag, ek weet nie of dit nodig is om ons oor die toekoms te bekommer nie. Dit voel soms of die toekoms baie donker lyk, maar het jong mense nie maar tien jaar gelede dieselfde vrese gehad nie? En hier is ons steeds. Nee wat, ek glo in die toekoms van die land en dit sal vrek sleg moet gaan voor ek die land verlaat.”

Jeanne Prinsloo (25), ’n onderwyser van die Pretoria High School for Girls, sê haar werk tussen ’n mengelmoes van kulture in een klaskamer hou haar positief oor die land. “Die leerders oortuig my telkens weer dat ons toekoms in die hande van kinders is wat mekaar onvoorwaardelik aanvaar ten spyte van kleur of taal.”
Jeanne sal nie sommer landuit trek nie. “Ons is immers die produk van ons verlede en miskien is dit belangriker om ’n gebreekte ding reg te maak as om dit te vervang.”

Kaydene Jordaan (26), ’n joernalis van Bloemfontein, sê Suid-Afrika is ’n land van eindelose geleenthede, maar korrupsie en bedrog is ’n groot bedreiging. “Dit maak my as ’n jong Suid-Afrikaner moedeloos om te dink armes word net armer en die land word by die dag meer onregeerbaar.”

Dit kwel Kaydene ook dat Suid-Afrikaners sonder om twee keer te dink meestal vir alles behalwe basiese dienste betoog. “Daar is in dele van die land geen standhoudende water nie, maar mense sal eerder oor ’n skildery in opstand kom.”

Joyce Nxuma (27) van Vereeniging is sedert die begin van die jaar werkloos – ten spyte van ’n graad in bemarking. “Ek voel beslis nie positief oor ons land nie. Inteendeel, ek is regtig omgekrap oor die dinge wat hier aangaan.

“Ons regering sal drastiese planne moet maak. Hulle stel slegs mense aan wat hulle ken. Alles gaan oor nepotisme.”
Sy sê baie van haar vriende is in dieselfde bootjie. “Ons glo nie meer in ons land nie. Dit is hartseer om dit te erken, maar dit is die waarheid. As ek nou ’n werk in ’n ander land kry, sal ek gaan.”

Ingrid Ebersohn (24), eienaar van die aanlynwinkel Tingss Accessories and Design, is opgewonde én skepties oor die toekoms van die land. “Dit maak my baie bly om te sien as jong kinders oor die kleurgrens saam speel en nie die woord apartheid ken nie. Daar is nog soveel sake- en groeimoontlikhede in ons land, hoe kan mens anders as om opgewonde te wees?”

Misdaad maak haar egter bekommerd. “As ek dink aan my eie kinders eendag is ek bekommerd oor die misdaad en die standaard van onderwys.”

Leanie Pretorius (29), ’n onderwyser van Midrand, is mal oor Suid-Afrika en sien ’n blink toekoms vir die land.
“Suid-Afrika bied soveel geleenthede aan jong mense. Ek voel dit is tyd om die verlede te begrawe.”

Leanie sal nie haar land vir groener weivelde ruil nie. “Elke land het bedreigings en geleenthede. Dit is net jammer Suid-Afrikaners in die buiteland is soms te trots om die bedreigings van die ander lande te erken. Ons land benodig sy kundiges. Dit is ons verantwoordelikheid om die land te help bou.”

Sy sê in hulle huis bestaan daar nie ’n ding soos apartheid of dat sommige mense beter as ander is nie. “Ons huis is ’n Koningshuis waar God alleen oordeel.”
’n Blik uit die buiteland
Kerkbode het ook met drie jong buitelanders, met een of ander band met Suid-Afrika, oor die land se toekoms gesels.

Timo Leibrandt (24) is ’n landbou-student aan die Universiteit van Hohenheim. Sy oupa is in Suid-Afrika gebore en Timo besoek die land gereeld. Hy praat Afrikaans vlot.

“Ek sien beslis ’n toekoms vir jong mense in Suid-Afrika, maar dit is nie so eenvoudig nie en ook darem nie te moeilik nie. Ons jong mense kan dinge hanteer.”

Timo glo die land benodig meer kundiges en dit moet aangemoedig word. “Ek sal graag in Suid-Afrika wil kom bly en is bereid om die probleme in die oë te kyk. Dit is die mooiste land ter wêreld. Ek beplan om na my studies hier te kom werk.”

Zirkia Grobler (30) en haar man, André, voorheen van Pretoria, woon die afgelope vier jaar in Saskatchewan Estevan, Kanada. Zirkia is ’n tuisblyma vir hulle twee seuntjies en André is ’n mediese dokter.

“Suid-Afrika se toekoms is vir ons donker. Die ministers mors belastingbetalers se geld en druk dit in hulle eie sak. Daar is so baie dakloses wat gehelp moet word en slaggate wat herstel moet word.”
Zirkia sê sy voel soos ’n vreemdeling in Suid-Afrika. “In Kanada aanvaar almal my, ongeag my velkleur.”
Tog sal sy weer wil terugkeer. “Ons mis die natuur en ons familie te veel.”

Brett Chapman (26), ’n PhD-student in Auckland, Nieu-Seeland, is in Johannesburg gebore. Hy was twee jaar oud toe sy familie Nieu-Seeland toe verhuis het.

“Ek dink Suid-Afrika het baie potensiaal en het in baie opsigte reeds baie goeie vordering gemaak. Maar op die oomblik voel ek daar is heeltemal te veel misdaad en korrupsie en dit maak dit vir jong mense baie moeilik om te presteer.”
Brett sê egter in dieselfde asem hy sal miskien eendag hierheen terugkeer.