NGTT nou as oopbrontydskrif op Internet te lees.

Druk-weergaweSend by emailPDF version

Aktiwiteite

 Die NGTT is nou ’n oopbron-vaktydskrif.

 

Dit beteken dat dit voortaan gratis op die internet by die NGTT-webwerf by http://ngtt.journals.ac.za/pub gelees kan word nadat lesers geregistreer het. Lesers sal dus nie meer op die tydskrif kan inteken nie.Die uitgawe van Sep/Des 2011 was dus die laaste uitgawe in gedrukte vorm. Lesers sal aan die einde van ’'n jaar die opsie hê om die verskeie uitgawes van daardie jaar as gedrukte weergawe te bestel.

Daarbenewens kan die uitgawes as ’n e-boek afgelaai en op ’n e-leser of selfoon gelees word.

Lesers sal merk dat vorige NGTTuitgawes ook binnekort op die webwerf gelees, uitgedruk of bestel sal kan word. Ouer uitgawes word stelselmatig gedigitaliseer – ’n projek wat deur die J. De Waal Neethling-trust gefinansier word. Dit kan gelees word by http://beta.ngtt.co.za/ 

Wat is die voordele van oopbron-publikasie?

  • Die belangrikste is dat navorsing so wyd moontlik beskikbaar gestel word.
  • Vir akademici van oor die wêreld wat in die NGTT publiseer, het dit die voordeel dat hulle navorsing raakgesien en gebruik word en in soekenjins opduik.
  • Nog ’n voordeel van die oopbron-model is dat artikels geplaas kan word sodra dit vir publikasie gereed is.
  • Daar sal jaarliks vier uitgawes wees, telkens al om die drie maande (spesiale supplemente uitgesluit). Dit beteken dat ’n uitgawe dan op ’n sekere tyd afgesluit en as geheel beskikbaar gestel word.

Die internet skep ook talle moontlikhede wat stuk-stuk tot die tydskrif toegevoeg kan word.

  • Dit is byvoorbeeld nou reeds moontlik om in blog-formaat (of dan webjoernaal-formaat) op die webwerf op artikels te reageer.
  • Artikels sal voortaan aanlyn deur die skrywers self ingedien word, terwyl die keurproses ook elektronies sal geskied.
  • Skakels tussen die aanlyntydskrif en ander webwerwe sal die interaksie tussen akademici en ander belangstellendes verbreed en verryk.
  • Nuwe tydskrif-uitgawes word byvoorbeeld reeds op Sol Iustitiae, die aanlyn-gespreksforum van die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch, aangekondig en via ’n skakel maklik beskikbaar gestel.

Om ’n webwerf professioneel te laat bestuur is nie goedkoop nie. Die idee is nie om in vergelyking met ’n gedrukte weergawe geld te spaar nie, maar om die koste van die leser na die verskaffer te verskuif. Die NGTT as oopbron-publikasie kon ’n werklikheid word danksy die steun van prof Nico Koopman, dekaan van die US se Fakulteit Teologie, asook die biblioteekdienste van die US wat die skep en instandhouding van die webwerf en verbandhoudende tegniese sake vir ’n periode van ten minste drie maande kostevry aanbied.

Dr Gerrit Brand
Redakteur