BYBELSKOOL: NG KERK BONAERO PARK (KEMPTON PARK)

Druk-weergaweStuur na 'n vriendPDF version
2012-02-08 19:00
2012-03-14 19:00
Africa/Johannesburg

Organiseerder: Prof. Hennie Stander; wnde Dekaan; Fakulteit Geesteswetenskappe; Universiteit van Pretoria, asook predikant van die Bonaero Park NGK gemeente.

 

Datum: Elke Woensdagaand van 08 Feb 2012 tot en met 14 Mrt 2012
Tema: “Word ‘n volledige mens om voluit te kan leef”

Die mens se lewe het verskillende fasette. Die doel van hierdie kursus is om jou toe te rus om in verskillende vlakke van jou lewe te groei en om ook gesond en suksesvol te leef. Die oogmerk van die lesings is om jou te help om regtig volledig mens te kan wees, sodat jou volle potensiaal na vore kan kom. In een van die lesings gaan ons leer om weer nuut en vars te dink. In ʼn ander lesing gaan ons leer hoe om ons liggaam gesond te hou deur goeie oefening, en in ʼn ander lesing om gesond te eet, en dan wil ons almal ook mos weet hoe ons ons geld reg kan hanteer. ʼn Kliniese sielkundige gaan ons help om na die emosionele faset van ons lewe te kyk sodat ons sinvol kan leef. En dan gaan ons natuurlik afsluit met ʼn ander belangrike deel van ons lewe, en dit is die geestelike faset.

Die hele kursus kos slegs R60 per persoon. Sou jy slegs 1 aand se lesings bywoon, is dit R20 per persoon, maar jy kan AL die lesings bywoon vir slegs R60! Kontak gerus die kerkkantoor by: (011) 973-4916 of (011) 395-4060. Jy kan ook die kerkkantoor per epos kontak: pa@hawe.co.za.

Die program vind plaas gedurende Februarie en Maart 2012 en lyk so:

Datum Spreker Hoedanigheid Tema
08 Feb    
Dr. Gustav Gous
Internasionale spreker
Om nuut en vars te dink
15 Feb 
Dr. Woltemade Hartman
Kliniese sielkundige
“Bou jou trots en ontdek só ʼn sinvolle lewe!”
22 Feb 
Prof. Ernst Krüger
Biokinetikus
Quo vadis – ʼn gesonde liggaam en fisieke oefening
29 Feb 
Cecile Van Niekerk
Dieetkundige
Om gesond te eet
07 Mrt 
Anton Swanepoel
Finansiële kenner
Om jou finansies reg te hanteer
14 Mrt 
Ds. Nati Stander
Predikant 
Om na jou geestelike lewe om te kyk

 Dr. Gustav Gous (Internasionale spreker)

Dr. Gustav Gous is ʼn internasionale spreker. Hy het ʼn doktorsgraad behaal in Ekumeniese Studies en Internasionale Betrekkinge aan die Universiteit van Pretoria.  Hy beskik ook oor grade in Sielkunde en Filosofie. Gustav tree op as ʼn lewensafrigter vir verskeie senior uitvoerende beamptes. Hy het vir nege jaar opgetree as die maatskappy-raadgewer van die internasionale petro-chemiese maatskappy Sasol. Hy is een van die stigterslede van die National Speakers’ Association of South Africa (NSASA), en hy bedien verskeie kliënte in Suidelike Afrika, die Midde-Ooste, Europa en die Verenigde Koninkryk as konsultant en fasiliteerder. Baie  organisasies het al gebaat by sy lesings. Van sy topkliënte is Sasol, De Beers, ABSA, Sanlam, FNB, Nedcor, Standard Bank, Momentum, Eskom, Vodacom, Toyota, ABI (Coca Cola), SureSlim, Sportron, Medi-Clinic, ERA, GIBS, Fraser Alexander en Telkom.

 

Dr. Woltemade Hartman (Kliniese sielkundige)

Woltemade Hartman is ʼn Kliniese en Opvoedkundige Sielkundige met ʼn privaat praktyk in Pretoria. Hy het sy opleiding as ʼn Ericksoniese psigoterapeut gekry aan die Ericksonian Foundation in Phoenix, Arizona, VSA.  Dr Hartman was ʼn uitvoerende komiteelid van die South African Society of Clinical Hypnosis, en hy was ook ʼn lid van die Raad van Psigologie van die  Health Professions Council of South Africa (HPCSA) en is ook die stigtersdirekteur van die Milton H. Erickson Institutes of South Africa (MEISA).  Dr. Hartman is die outeur van  “Ego state therapy with sexually traumatized children” asook van “Einführung in die Ego-State Therapie”, en ook van verskeie artikels oor die tema hipnose en psigoterapie. Hy bied lesings aan in talle lande, onder andere Suid-Afrika, Europa, Australië, Kanada, Amerika, die Skandinawiese lande en China. Dr Hartman is die ontvanger van die 2009 Early Career Award for Innovative Contributions to Hypnosis van die International Society of Hypnosis.

 

Prof. Ernst Krüger (Biokinetikus)

Prof. Ernst Krüger het sy sekondêre skoolopleiding aan die Hoërskool Jeugland (Kemptonpark) in 1974 voltooi. In 1984 word hy ‘n Springbok in Moderne Vyfkamp, en tot en met 1991 verteenwoordig hy Suid Afrika as lid en later as kaptein in toetse teen talle internasionale spanne.

In 1986 het hy sy DPhil aan die Universiteit van Pretoria behaal. In 1996 is hy aangestel as Direkteur van die Instituut vir Sportnavorsing. Hy het reeds 78 artikels gepubliseer in geakkrediteerde tydskrifte, en was promotor vir 25 magister en 18 doktorale studente. Hy is betrokke by die evaluering van elke Olimpiese, Statebonds en Afrikaspan wat vanaf 1992 aan die Olimpiese Spele, Statebond Spele en Afrika Spele deelgeneem het.

 

Cecile Van Niekerk (dieetkundige)

Cecile het B.Dieetkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer en het in 2006 haar gemeenskapsdiensjaar by Potchefstroom Distrik Hospitaal voltooi. Sy is daarna aangestel as dieetkundige by Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria. Gedurende 2011 het sy en ‘n kollega ‘n Dieetkunde Praktyk op die been gebring wat fokus op eetgewoontes en voedingsprobleme van kinders en hul gesinne. As ‘n span probeer hulle wetenskaplike beginsels op ‘n eenvoudige manier aan gesinne oordra sodat kinders eendag gesonder volwassenes sal wees. Tans is sy besig met haar Meesters graad in Dieetkunde wat fokus om die bestuur van oorgewig en obesiteit in graad 2 en 3 leerders aan ‘n laerskool in Pretoria. Cecile is ook die konsulterende dieetkundige vir die tydskrif Life Chat wat fokus op ouerskap en moderne tieners. Sy skryf ook gereeld insetsels vir tydskrifte en webwerwe.

 

Anton Swanepoel (Finansiële Kenner)

Anton Swanepoel is ʼn finansiële adviseur met meer as 20 jaar se ondervinding in die finansiële dienste industrie. Hy het sy loopbaan in 1989 begin as ʼn regskonsultant by Sanlam. Sedert 1992 het hy al verskeie bestuursposisies in die finansiële industrie beklee. Hy gee ook opleiding namens die Gordon Institute of Business Science in samewerking met die Universiteit van Pretoria. Dan was hy ook ʼn finalis in die 2003 Personal Finance / FPI Financial Planner of the Year kompetisie. Hy het al dikwels opgetree as openbare spreker by FPI Nasionale Konferensies, by ontbytgeleenthede vir sakemanne, by strategiese beplanningsessies en by die APICS International Business Conference in Australië in Mei 2004.

 

Ds. Nati Stander (predikant)

Nati Stander is die afgelope nege jaar predikant in die NG gemeente Dalpark. Sy passie is Bybelse lering en onderrig. Hy omhels kennis en wetenskap op ‘n unieke manier wat aan God die eer gee. Die Bybel is sy rigsnoer en behou altyd die laaste woord. Hy is met Lindie getroud en is die pa van twee dapper seuns. Hulle is saam in die bediening van geregtigheid en deel genade uit so ver as wat hulle gaan. Nati is geanker in die volmaakte vaderhart van die HERE, in Jesus se voltooide offer aan die kruis en in die volle uitstorting van die Heilige Gees.