Ouerbetrokkenheid by jeugbediening as noodsaaklikheid.

Druk-weergaweStuur na 'n vriendPDF version

Artikel geskryf deur Dr. Dirkie de Wet

Klagtes oor ouers

Baie van ons is skuldig omdat ons ouers blameer vir hul onbetrokkenheid by die geestelike opvoeding van hul kinders. Dit is al dikwels by opleidingsessies vir jeugleiers en ander jeugleiergeleenthede genoem.

Ouers se tydsbesteding met kinders

Ouers bestee in die algemeen steeds meer tyd met hul kinders as jeugleiers. Ouers se invloed op hul kinders speel dus ook ‘n groter rol as die van jeugleiers. Ouers het hul kinders op ‘n meer intieme manier lief as jeugleiers. Ouers weet ook beter wie hul kinders werklik is as hulle nie tussen hul maats of in ‘n kategeseklas is nie. So kan ons aangaan om die waarde van ouers in kinders se geestelike opvoeding te beklemtoon.

Strategie vir ouerbetrokkenheid

Die vraag is dus nie of ons ouers by jeugbediening betrokke moet kry nie, maar watter strategie moet gevolg word om ouers betrokke te kry. Die volgende mag na te eenvoudige wenke lyk wat jy miskien al dikwels gebruik het, maar kyk weer daarna. Die groot geheim vir jeugwerkers is om op ‘n persoon-tot-persoon-basis met die jeug en hul ouers kontak te maak. Die “hoe” is nie so belangrik nie, maar “dat” dit plaasvind is van belang.

  • Bemoediging: Hou aan om ouers van aangesig tot aangesig aan te moedig om deel te wees van dit wat jy as jeugleier met hul kinders doen. Sodoende bou jy terselfdertyd aan ‘n verhouding tussen jou en die ouers en kry jy ‘n beter begrip hoe om hul kinders te benader.
  • Gesinsvriendelike byeenkomste: Gesinsvriendelike byeenkomste, kampe en eredienste met genoeg deelname kan ‘n ysbreker vir die stroewe atmosfeer wees wat dikwels bestaan as ouers by jeugbyeenkomste opdaag. By sulke geleenthede kan die ouers deeglik ingelig word wat met hul kinders gedoen word, Die jeugleier se visie en missie word op praktiese deelnemende wyses oorgedra sodat ouers dit tuis as gesin kan opvolg. Dit dien ook as aanknopingspunt om ouers vir vrywillige diens by die jeugbediening te vra.
  • 'n Huis-jeugbyeenkoms: Vra ouers dat sekere aktiwiteite by geleentheid by hul huise gehou kan word. ‘n Ete saam met ‘n Bybelstudie kan die mure afbreek om meer spontaan in die gemeente saam te werk en selfs die huisaltaar weer in ere te herstel. Om die geestelike DNA van wat by die kerkgebou of jeugsentrum plaasvind met die jeug se ouerhuise te verbind, is lewensbelangrik vir gesinsbediening en ouers se betrokkenheid by hul kinders se geestelike opvoeding.
  • Gebed en die werking van die Heilige Gees: Die strategie vir ouerbetrokkenheid by die jeugbediening kan alleen suksesvol en geseënd wees as gebed deel daarvan is. Om met God oor hierdie benadering te praat, sal die woorde van kritiek oor ouers vinnig laat opdroog. So word die Heilige Gees die geleentheid gegee om te doen wat jeugprogramme en jeugleiers met die beste opleiding nie kan doen nie.
  • Verhoudings: Die tyd om dit alles te kan doen, kan as ‘n probleem vir hierdie strategie genoem word en ook as verskoning gebruik word, maar as daar nie ‘n verhouding tussen ouers en jeugleiers bestaan nie, is die taak aansienlik moeiliker om met die jeug te werk. Maak ‘n begin om ouers te besoek. Jy kan dalk as bonus uitgenooi word vir ‘n lekker ete tydens so ‘n besoek!
  • “Stop fixing, be with me”: Die volgende woorde kom van Andy Root se vrou tydens ‘n argument oor probleme met haar familie en Andy wat oplossings daarvoor probeer voorstel: “Stop! Stop trying to fix things! I don’t need you to fix this, I need you to be with me in it. Relationships aren’t about making things better, they’re about being together in each other’s most difficult and painful moments; that’s love.” Andy Root was een van die gassprekers van die VSA tydens die Jeugkonferensie einde Augustus vanjaar by Kempton-Kruin. Dit sal beslis help om sy boek, “Revisiting Relational Youth Ministry, from a strategy of influence to a theology of incarnation”, aan te skaf om onvoorwaardelike verhoudings te bou.
     

Dr. Dirkie de Wet
dirkiedewet@absamail.co.za,  

011-913-44143, 072-844-8073