Termynbepaalde Kontrakposte - Inligtingstuk uit die ATR

Druk-weergaweStuur na 'n vriendPDF version

“Die ATR vestig weer die sinodes se aandag op die verslag rakende die kontrakposte ten opsigte van leraars wat met die Alg Sinode in 2007 goedgekeur is (Handelinge bl. 17) en veral op die beskrywing van termynbepaalde pos:

‘Hierdie tipe pos het die afgelope paar jaar sy verskyning op die kerklike toneel gemaak. Die bedoeling van die pos is nie soseer om predikant vir bepaalde termyn aan te stel nie, maar eerder vir bepaalde taak wat binne bepaalde termyn afgehandel kan word. Die feit dat daar bitter min voorskrifte rakende die pos is, maak dat die betrokke pos soms tot misbruik lei. Die aantreklikheid vir die pos is geleë in die feit dat die persoon predikantsbevoegdheid kry, beroep word en vrystelling kry van die gemeente se pensioenaandeel. Die bedoeling van die pos is dat ’n persoon vir ’n bepaalde tyd (verkieslik nie meer as 1 jaar nie) en vir ’n bepaalde (gespesifiseerde) taak beroep word.

Die oomblik wanneer daar aan so ’n pos die moontlikheid van verlenging of permanensie gekoppel word, skep dit arbeidsregtelike probleme met gepaardgaande risiko's. Elke werknemer het die reg om billik ontslaan te word. Volgens Art186(b) van die Wet op Arbeidsverhoudinge beteken ontslag dat ’n werknemer redelikerwys van die werkgewer verwag het om ’n vaste termyn dienskontrak op dieselfde of soortgelyke voorwaardes te hernu, terwyl die werkgewer aangebied het om dit op minder gunstige voorwaardes te hernu, of dit nie hernu het nie. Met ’n termynbepaalde pos verval die kontrak dus aan die einde van die termyn.

Die kerkraad kan wel aan die einde van die termyn met die betrokke leraar onderhandel om vir nog ’n termyn aan te bly of die pos weer bekend te stel en ’n nuwe ooreenkoms met ’n persoon vir ’n volgende termyn aangaan. Hierdie termynbepaalde pos kan óf ’n voltydse pos (soos 1.1 hierbo) óf ’n tentmakerpos (soos 1.2 hierbo) wees. Hierdie is ’n pos wat tot groot misbruik kan lei, want as so ’n pos jaar na ’n jaar hernu word, is dit nie meer ’n termynbepaalde pos nie, maar ’n permanente pos.

’n Leraar wat in so ’n pos is, kan die gemeente as afgevaardigde op meerdere vergaderings verteenwoordig. ’n Predikant in so ’n pos kan nie kwalifiseer as ’n lid van die pensioenfonds nie. Om dus so ’n beroep aan te neem, moet hy/sy toestemming kry om nie deel van ’n pensioenfonds te wees nie.

Die ATR is in ’n proses om ’n reglement vir die bepaalde poste op te stel en gee voorlopig die volgende riglyne deur:

  1. Om misbruik te voorkom, oordeel die ATR dat ’n termyn nie langer as 3 jaar behoort te wees nie. Die termyn en die bepaalde taak waarvoor die termynbepaalde pos geskep is, moet duidelik in die diensooreenkoms beskryf word. Let daarop dat die klem nie hier op die termyn val nie, maar juis op die bepaalde taak waarvoor die pos geskep is.
  2. ’n Kerkraad kan ’n termyn net een maal hernu; daarna moet so ’n leraarspos na ’n permanente pos (voltyds of deeltyds) verander word.
  3. Die bedoeling van die pos was nooit om aan ’n leraar die geleentheid te bied om na sy/haar aftrede in dieselfde gemeente in ’n termynbepaalde pos aan te bly nie.”
  4. Dit is die beroepende vergadering se plig om, alvorens bevestiging plaasvind, in die lig van veranderende wetgewing vas te stel wat die heersende wetgewing én ons eie pensioenfondsreëls in verband met die pensioenfonds is, en om aan die vereistes van sodanige wetgewing en reëls te voldoen.

Frikkie van der Merwe